Die enkelbediening het voortgespruit uit die enkelouergroep wat Ds. Petrus Cartens begin het.  Van ’n ondersteuningsgroep en sosiale groep vir geskeides het ons nou verander na ‘n ondersteunings-/selgroep vir alle enkel persone (geskeides / persone besig om te skei / enkelouers / enkellopendes). Beide mans en vroue is welkom.   Hierdie is ’n geleentheid om nuwe vriende te ontmoet, positiewe denke uit te ruil, maar ook oor jou (hartseer / pyn / woede / probleme / bekommernisse, ens.) te gesels met mense wat verstaan en self deur die proses is.
Ons hou Bybelstudie en gesels saam oor God.  Ons deel mekaar se lief en leed maar meeste van alles is ons daar om mekaar te ondersteun, sodat elkeen binne ’n ondersteuningsnetwerk as Christene deur God se liefde voluit kan lewe! 

Henry Ward Beecher het gesê:
“Leef om vreugde in ander
se lewe te bring.  So sal jy jou eie
geluk verseker.”

Ons kom elke 2de Woensdagaand bymekaar by Amandastraat 13, Morgenster, Brackenfell vanaf 19:00 tot 21:00.  Persone met kinders is welkom om die kinders saam te bring.  Kontak vir Sonja de Bruin (marketing@plegange.co.za / 083 370 4365) of  Lena Fribus (commuters-capetown@saps.gov.za / 082 955 0803).  Ons volgende byeenkoms is Woensdagaand, 28 September 2011.

So ietsie meer oor Sonja en Lena


Sonja is ±21 jaar al in die Gemeente en is betrokke by die enkelbediening, neem leiding by die senior kategese en is ook deel van die jeugkomitee.  Sy is ‘n Sekretaresse/Persoonlike assistent in die bemarkingsafdeling by P. le Grange & Seuns.

Sy is ‘n enkelouer, het 1 seun Jancó (19 jaar) en kyk na ouma Dottie (91 jaar) wat by hulle bly.  "Ons is ‘n baie hegte gesin, is baie lief vir die see en ry sommer maklik gedurende ‘n naweek see toe om bietjie te gaan stap.  God speel ‘n belangrike rol in ons gesinslewe.  Sonder Hom sou ons nie gewees het waar ons vandag is nie en daarvoor kan ek net baie dankie sê.

Ons groot vakansie-plek is natuurlik Struisbaai, waar my suster-hulle tans woon.  So die motor se neus ken net een pad gedurende Desember en dit is Struisbaai toe.  Moet bysê – ons sal nie juis vergewe word as ons nie Struisbaai toe gaan nie!

Diere en veral honde-kinders speel ‘n groot rol in ons gesin se lewe.  Tans het ons ‘n baba Dalmation van so 3 maande waarom die hele huishouding omtrent draai – kwaaddoen en omkrap is haar middelnaam.

Ek is baie lief vir mense en veral kinders. Kuiertjies saam met vriende is kosbaar. Daar is eintlik min tyd vir stokperdjies, maar as daar tyd is lees ek graag, doen “scrapbooking” en verder hou ek my besig met lapverf."

Lena  is ook ‘n enkel ma van ‘n 18 jarige seun, Charl  en ‘n 16 jarige dogter Liandie. Sy is al van 1979 in Brackenfell en kom oorspornklik uit die destydse Rhodesia, nou Zimbabwe.  Sy is die oudste van 4 dogters, waarvan almal al hul eie gesin het.

Sy is ‘n Kaptein in SAPD en is tans werksaam by die Spoorwegpolisie se die provinsiale kantoor.   "Ek en die manne in my kantoor is verantwoordelik vir die saamstel van misdaadanalises oor insidente wat in die spoor-omgewing plaasvind. Ek het ongeveer 25 jaar diens in die polisie.  Om mense te help is vir my baie belangrik, want dit is die voorbeeld wat God ons gegee het – om dié om ons te help en te dien waar ons kan.   Ons werk in ‘n omgewing wat dikwels nie baie vriendelik is nie en kry baie met die negatiewe dinge van die lewe te doen (trein ongelukke, ens.).   Ek geniet my werk en is so dankbaar dat ek ‘n verskil kan maak, hoe klein ook al.  God is baie belangrik in ons kantoor en ons drie is almal Christene en dien God met oorgawe.  As dinge rof raak, raak ons eers stil en vra kalmte van God dmv gebed voordat ons aangaan.

My stokperdjies is lees, kralewerk, naaldwerk, lapverf en kaartjies maak.   Ek hou daarvan om te ontspan deur tuin te maak want dan voel ek nader aan God.   ‘n Ander plek wat vir my kalmte bring, as dinge te rof raak, is die see.   Daar kan ek weer my battery herlaai, veral op stormagtige dae."