|


Die groot uitdaging van te veel planne en te min geld......
Ja of ons dit nou wil glo of nie die kerk het ook geld nodig om te oorleef. Dieselfde uitgawes wat enige besigheid het, het die kerk ook: Salarisse, telefoon, munisipale belasting, onderhoud van geboue, water, elektrisiteit, skryfbehoeftes om maar net ‘n paar van die vaste uitgawes te noem. Dan moet ’n kerk ook sy deel doen met sinodale bydraes, getuienis, die verskillende bedienings groepe soos kinders, jongmense, bejaardes, werkende mense, ens. Al hierdie bedieninge het geld nodig om hulle werk te kan doen. Die idee is dat die gemeente se bediening deur die dankoffers van lidmate gedra word. Daar is egter altyd ekstra gate wat toegestop moet word en dit is die fondsegroep se taak.
Ons as fondsegroep wil graag die projekte so aanpak dat ons twee vlieë met een klap tref. Eerstens genereer ons ekstra fondse vir die kerk en tweedens skep ons geleenthede vir lekker kuier. Kuier is in ons gemeente se bloed, daarom is meeste van ons projekte kuiergeleenthede. Die geleenthede waaraan mens onmiddellik dink is die Kermis, wat ‘n reuse sukses was; die Teetuin (elke Sondag na die erediens ‘n heerlike lavenis- en kuiergeleentheid) en dan lê die Pik-en-Proe nog voor. In plaas daarvan om die “Steakhouse’, Wimpy of McDonalds te ondersteun, spaar asseblief julle geld vir die Pik-en-Proe van 28 Oktober 2011en kom kuier lekker saam met ons. As ek die terugvoer moet glo is hierdie een van die gemeente se hoogtepunte elke jaar. . . dalk omdat elkeen sy eie botteltjie wyn kan saambring.
Enige persoon wat insette rakende fondsinsamelings projekte deur die jaar wil gee of hulp wil aanbied kontak asb. die kerkkantoor of my direk by 082 4402572 of per epos by danie@greengreen.co.za. Alle insette en idees is baie welkom en word hoog op prys gestel. Danie Grobler.
Ontmoet vir Danie en sy gesin. 
Danie is tans voorsitter van die fondsegroep en dien ook op die kerkraad.
Ietsie oor die Groblers, Pa Danie en Ma Rita het twee spruite Melani en Dané. Melani het klaar studeer en tans werk sy en skop nes saam met ‘n vriendin in hul eie woonstel. Dané studeer Argitektuur by UCT. Danie is ‘n direkteur en Rita ‘n tuisteskepper. Hulle woon al sedert 1995 in Vredekloof en is baie gelukkig in die gemeenskap en gemeente. Danie kom oorspronklik van Port Elizabeth, in die Ooskaap en Rita van Prieska, in die Noordkaap, maar die hele gesin is geharde WP- en Stormer-ondersteuners. Die Kaap is die lekkerste plek in die land!
Daar is maar min tyd vir stokperdjies maar Danie ruim darem tyd in vir golf so af en toe, verder probeer die gesin om in hul vrye tyd saam te kuier en daarom is Sondag gewoonlik gesinsdag. Die Grobler-gesin ry graag Sondae na kerk die Weskaap plat en geniet al die besienswaardighede wat ons streek bied.
|
|