Die Gasvryheidsbediening in ons Gemeente is nog in sy “baby grow” fase!

Dit is my droom – dit is hoe ek wil hê mense moet voel as hulle vir die eerste keer by ons Gemeente instap.  In Hebreërs 13 en 1 Petrus 4:9 vra Jesus die volgende vir ons : "wees gasvry teenoor mekaar sonder om te murmureer" – En dit is wat ons moet uitleef!

Hierdie passie het ontstaan uit my eie ervaring 8jaar gelede toe ons hier aangekom het..  Ons het vir lank gevoel soos buitestaanders en was daarom vir baie lank passiewe lidmate.  Dankie vir die Here en wonderlike mense wat uitgereik het en my mure afgebreek het en so gemotiveer het dat ek ‘n verskil vir ander wil  maak. 

Die Gasvryheidsbediening is daarom vir my die WELKOM TUIS bordjie vir besoekers en nuwe intrekkers.  MAAR, die bediening is nie beperk tot ‘n paar persone in die gemeente nie - elke lidmaat van ons gemeente staan eintlik informeel in diens van die Here in die gasvryheidsbediening.  Selfs ‘n glimlag aan ‘n vreemde persoon spreek partykeer meer as ‘n koppie koffie!!!!

Ons is daar om besoekers en nuwe intrekkes welkom te laat voel – ons is die vriendelike gesig wat hulp kan aanbied ten opsigte van inligting aangaande die Gemeente, aktiwiteite en inskakeling.  Ons is die “Nommer Asseblief “ Sentrale van die Gemeente, wat lidmate kan “deurskakel” na die regte nommer.  Ons is mos DIE GEMEENTE WAAR VRIENDE ONTMOET. Die Gasvryheidsbediening skakel in by baie van die bedienings, maar hiervoor het ons nog hande nodig.   Tee-en koffieskinkbeurte by die eredienste is maar die begin, maar selfs daar het ons hande nodig.  Ons is ook betrokke by funksies soos afskeidsfunksies, Kerssangdiens ens.  Hoe meer mense betrokke is, hoe makliker word dit vir almal.  Julle, dit is ‘n baie jolige affêre daar agter in die kombuis met tye.
Ons begin ook nou met ‘n bediening aan nuwe intrekkers waar ons hulle sommer net lekker hartlik verwelkom en laat tuis voel.  As gemeentelid kan jy op een van twee maniere betrokke wees hierby:

  • As jy bewus is van nuwe intrekkers, kontak my of die Kerkkantoor en stel ons in kennis.  
  • Raak deel van die verwelkomingsgroep.  Ons verwelkom nuwe intrekkers deur vinnig te gaan inloer met ‘n pakkie beskuit/koekies, ‘n kerk-almanak en die vorige Sondag se kerkafkondiging. Dan kan mens vir hulle inlig oor die bedrywighede wat ons het en waarby hulle en hulle kinders kan inskakel.  Dan het hulle ook sommer ‘n kontaknommer en ken darem een gesig in die vreemde Gemeente as hulle die volgende Sondag kerk toe kom.  Wanneer jy hulle dan ontmoet by die kerk, kan jy hulle weer bekend stel aan nog iemand, en dan ken hulle 2 persone!  Dan is ons mos die Gemeente waar vriende ontmoet.

Dankie aan almal wat al betrokke is & Johan Beneke (een van ons kosters) wat altyd reg is om uit te help.  .  Sjoe, sonder julle hulp kon ek dit NOOIT gedoen het nie ek dink julle is die BESTE!!

Enige een wat wil betrokke raak, kan my kontak na ure op (021)982 7898 of e-pos by:  BoetieGrootjan@gmail.com

Amanda
Amanda is een van ons nuutste kerkraadslede wat laas jaar verkies is in die nuwe portefeulje gasvryheid.  Amanda is opgelei as geregistreerde verpleegkundige en het in teater gewerk by Panorama voordat sy die korporatiewe veld betree het, en werk nou vir Medscheme. Sy is ‘n junior bestuurder in die inbelsentrum vir hospitaalmagtigings afdeling. 

Sy is getroud met Boetie – wie sy beskryf as “my linker en regterhand en die meeste van die keer my kop ook is”. Hulle het twee seuns.  Attie is nou matriek en Wessel in graad 6- “en glo my, die twee kan mens nogal aan die gang hou”. 

Oor hulle as gesin sê sy:  “Ons is buitelug mense wat graag kamp en niks daarvan dink om sommer in die somer saans langs die swembad te slaap nie.   Beide my en Boetie se werk is baie stresvol en dus  as ons nie gereeld die bos en  woestyn om ons kry nie, raak ons baie moeilik – Namibië is ons gunsteling kuierplek.  En ons hou van mense om ons.  Daar is altyd ‘n bedryfwigheid by ons huis, want ons is lief vir mense en kosmaak – EN daar moet ‘n vuur wees!!

My man en kinders het groot geword op perde – en Paasnaweke is dit waar jy ons sal vind.  Ek ry ook, maar is nie so bedrewe soos hulle nie.  Ek wag nog vir die model met die “safety belt”.  Ek dink my kinders is die enigste in die land wat tot nog onlangs met ‘n donkiewa see toe geneem is.”