Leraar: Ds. Johan Mocke
Johan het by die gemeente aangesluit in 1994.
- Johan is gebore op 29 September 1959 te Vryburg.
- Tot op ouderdom 11 grootgeword op Kenhardt.
- Vanaf standerd 4 tot middel standerd 9 op Upington.
- Daarna is ons Kaap toe (Parow). Gematrikuleer in HTS Bellville in 1977.
- Op die trein gegooi na Bloemfontein, 1SDB vir 3 jaar militêre opleiding by die Pantserkorps en Pantserskool.(Ek kon 'n "parrabat" met 'n toggletou oor die kopslaan, maar weens mysagmoedige geaardheid het ek toe nie!)
Teologiese opleiding vanaf 1981 tot 1987. Ook Sielkunde Hons in die tyd opgedoen, my vrou Elaine ontmoet, en medeverantwoordelik dat Christiaan (ons eerste) die lig sien - als binne die huwelik.
1988 - 1994: Ons eerste gemeente te Nieuwoudtville - ses wonderlike vormende jare (en nog 2 seuns - Corne en Evan - by!) en ook my Mth studies buitemuurs voltooi.
Sedert April 1994 in Brackenfell - steeds besig om elke dag God se algrootheid nuut te ontdek en met medegelowiges te deel. En saam met kollegas (waarvan sommige gekom en gegaan het) en lidmate (wat ook kom en gaan!) die reis van die geloof en lewe te loop.
Wat gee my energie?
Nuwe dinge, oor God, avonture - om op nuwe plekke te kom, op reis te gaan, iets in 'n boek te ontdek, 'n foto te neem, deur 'n verkyker te kyk, te skype, te google, grondpaaie met 'n motorfiets te ry, my kinders te sien groei, my vrou te sien mooier word, en om te beleef dat iemand met wie my pad kruis, se lewe transformeer tot nuwe troos, nuwe insig, nuwe vrede nuwe sekerheid in die Here - en dat ek daarin kon deel. Elke week nuwe waarhede in die Bybel te ontdek en dit op 'n Sondag te kan deel - wat 'n voorreg. Nuwe insigte vir ons gemeente, nuwe deurbrake oor ou grense en die vreugde van mense wat in die Here hul vreugde vind. |