Finansiele Verslag
Elf maande van die finansiële jaar is verby en ons het groot rede tot dankbaarheid: ons netto surplus vir die jaar is R12 113. Vir die jaar tot datum, is ons inkomste R1,963 miljoen en uitgawes R1,951 miljoen en dit lyk of ons die finansiële jaar met ’n surplus gaan afsluit. Ons loof God vir sy voorsienigheid! Baie dankie aan alle lidmate vir hul getroue ondersteuning. Die bedryfsbegroting vir die nuwe finansiële jaar word tans voorberei vir goedkeuring deur die Kerkraad op 22 Februarie. Die uitdaging is om ons inkomste sodanig te verhoog dat die gemeente kan oorweeg om einde 2012 die derde predikantpos met ’n permanente aanstelling te vul. |
Eredienswerkers
Nuwe eredienswerkerslyste is by Louter (083 629 9317) en die kerkkantoor beskikbaar. Eredienswerkers moet asb. seker maak hul gegewens is korrek en die kerkkantoor in kennisstel indien dit nie is nie. |
Kategese & Eredienste: Hoe werk dinge in 2012?
Ons kry hier en daar navraag oor hoekom het ons die tieners aande toe geskuif. Daar was verskeie redes voor gewees en een daarvan is lokale. Ons het te min lokale om die kinders en die tieners soggens te akkomodeer. 
'n Ander rede is dat daar versoeke gerig is dat 'n uur kerk en 'n uur kategese te lank vir die kinders is. Om egter die stof sinvol aan te bied sowel as om integrasie gesprekke te voer is ten minste 'n uur nodig. Die oplossing: bied die stof in die erediens aan en doen die gesprekke tydens kategese.
Die probleem hier is ons sit met verskillende ouerdomsgroepe wat verskillende benaderings benodig en wie se kategese stof baie verskil. Met die kinders fokus ons op Bybelkennis en die tieners spits toe op wat die kerk leer en hoe dit in my lewe neerslag vind. Ons kan onmoontlik alles in een erediens akkomodeer of binne een kategese aanbieding.
Die enigste sinvolle oplossing tans is om die twee groepe te skei. Ons besef dit maak dit moeilik vir ouers met kinders en tieners, maar dit is steeds die beste oplossing en dit werk! Die kinders kan op hulle vlak saam gesels en die tieners geniet die aanddiens waar daar van die musiek waarvan hulle ook hou gesing word.
So tans lyk ons erediens en kategese strukture as volg:
Kindergesinsdiens
Die kindergesinsdiens word Sondae-oggende in die sentrum gehou. Dit is 'n geleentheid vir gesinne met laerskoolkinders om saam te aanbid in 'n meer ontspanne kindervriendelike atmosfeer. Ons volg hier ook die kerkjaar, met fokus op die Bybelverhale. Dit is belangrik dat kinders vertroud is met die Bybelstories en daar is gevind dat die vereenselwiging met Bybelkarakters bydra tot geloofsvorming in laerskoolkinders.
Die kinders kom aanvanklik almal saam met hulle ouers of kategete kerk toe wat vir gesinne die geleentheid gee, om in lyn met ons gemeente se roepingsverklaring, saam 'n diens by te woon. Dit bied ook vir kinders die geleentheid om te beleef dat hulle deel van die groter geloofsfamilie is deur hulle deelname aan die eeue oue sakramente, rituele en liedere wat 'n groot rol in ons geloofsvorming speel.
Na die lees van die bybelverhaal skuif die Gr 1 – 2's oor na die Jeuglokaal waar hulle op 'n ouderdomsgepaste wyse verder gesels oor die verhaal. Daar word die boodskap d.m.v. stories, speletjies en handwerk vasgelê.
Die Gr 3 – 5 kinders kom na die diens in die sentrum bymekaar om eerstens te deel hoe dit gaan en mekaar so te ondersteun en tweedens te gesels oor hoe elkeen God se stem in die Bybelverhaal hoor. Hierdie gebeur deur middel van gesprek, drama, rituele en soms ook handwerk.
Die Gr 6 kinders kom na die diens in die kategeselokaal (agter die sentrum) bymkeaar en doen die kinder EEIII kursus, wat 'n oorbrugging tussen die junior kategese en senior kategese vorm.
Tienergesinsdiens
Ons het laas jaar begin met 'n tienerdiens saans om 17:30. Ons het heelwat terugvoer van ouers gekry wat graag as gesin eredienste wil bywoon, daarom het ons besluit om die karakter van die erediens klein bietjie te verander na 'n tienergesinsdiens toe. Dit sal baie dieselfde vorm hê as die kindergesinsdiens, maar die inhoud verskil. Vir die tieners is dit belangrik om te leer wat ons glo en hoekom ons dit glo. Daarom fokus ons met die tieners op relevante geloofstema's wat die tieners in staat stel om hulle geloofslewe met hulle alledaagse lewe te integreer; iets wat beslis nie net relevant is vir tieners nie, maar vir enige gelowige.
Die eerste gedeelte van die aandprogram sal dus hierdie jaar as 'n tienergesinsdiens ingerig word. Na dit verdeel die tieners in hulle groepe en besprek die tema verder. Die bespreek van die inhoud is belangrik, maar ewe belangrik is die omgee vir mekaar en die skep van 'n veilige ruimte waar lewensvrae openlik bespreek kan word. Ouers word genooi om 'n koppie koffie te geniet terwyl hulle wag. |
'n Terugblik op week van gebed
Die reëlingskomitee van die week van Gebed het gevra dat die predikante hierdie jaar die gebedsweek sal lei, en dat “ons dan op die manier” ook iets van die leraars se harte kon hoor.
Ons, as leraars, het die gemeente se Roepingsverklaring as hooftema gebruik en aan die hand van Skrifgedeeltes bedink en verbeeld. Die diens is liturgies ingerig rondom skriflesings, gebed, stiltes en saamgesels. Die vrae waaroor daar gesels is, was:
- Hoe sou die wêreld en spesifiek ons gemeenskap lyk as ons dit wat ons glo ons van die Here hoor verwerklik?
- Hoe sou dit lyk as ons ‘n gemeente is wat werklik ons Jeug en ons gesinne in die gemeenskap ernstig opneem en bedien?
- Hoe sou die gemeenskap lyk as ons as gemeente ons hele gemeenskap ernstig opneem. Waar sou ons betrokke wees? Wie se lewens sou aangeraak word. Waaroor sou ons standpunt ineem?
- Wat sou gebeur as ons as Gemeente, na die voorbeeld van Bybelse verhale, bereid sou wees om te waag en berekende risiko’s te neem. Om in navolging van Jesus menselewens en situasies aan te spreek sodat die Koninkryksvisie van Jesus sigbaar gestalte kry in ons gemeenskap?
Dit het ons dankbaar gemaak om voorbeelde te hoor van tekens dat ons die Here se roepstem in die verband ernstig opneem. Ons bedank elke lidmaat, gemeenskapsleier, en diensorganisasie in ons gemeenskap daarvoor en dra hulle upnuut weer in gebed aan die Here op.
Ons het verder lekker gedroom en gesels oor nuwe moontlikhede. Soos:
- om konstruktief die haweloses se situasie aan te spreek,
- ouer mense wat betrokke raak by kinders in die gemeente, tipe van "adopt-a-granny"
- om een Sondag 'n maand ‘n Sondag-vir-vriende-saambring te maak,
- om geletterdheidsklasse vir vlugtelinge en uitlanders te begin
- om mekaar te motiveer om om konstruktief by skole se beheerrade betrokke te raak,
- om geleenthede te skep waar ons mekaar se stories kan hoor,
- om 'n groep bymekaar te kry wat by die ouetehuis bedien en sommer net kuier
- om kwessies aan te spreek wat 'n negatiewe impak op die gemeenskap maak
Dit alles het ons laat besef wat ‘n voorreg dit is om as gelowiges in navolging van Jesus in hierdie gemeenskap van ons betrokke te wees.
Selfuitgedinkte planne en idee’s kan mens uitput en moeg maak. Om voor die Here hierdie dinge te bedink, help dat ons van die begin af sekermaak die koers wat ons inslaan, in lyn is met die koers wat ons glo die Here ons reeds al geruime tyd op die hart lê.
Ons gebed is dat die Here Brackenfellgemeente hierdie jaar sal lei en dat ons verras sal wees oor die avontuur waarop die Heilige Gees ons neem. Ons nooi elke leser en lidmaat om steeds met julle gesinne en met die Here oor hierdie gedagtes te praat – dit bly ‘n voortgaande proses waarby ons almal betrokke is, waarby ons almal baat en onthou dat die Here jou enige oomblik kan gebruik om ‘n bydrae te maak! |
Alta du Toit: Dis Kermis tyd!
Bring jou vriende en familie en kom kuier saam op 3 Maart teen 09:00vm by die Altasorg Kermis. Ons sien uit om almal daar te sien!

|
|
|
Sondag-van-die-verheerliking
Eerskomende Sondag, 19 Febr., vier ons, saam met kerke dwarsoor die wêreld, Sondag-van-die-verheerliking. Sondag-van-die-verheerliking is die afsluiting van die Kerssiklus en tegelyk die oorgang na Lydenstyd. Op hierdie Sondag word gefokus op Jesus se verheerliking op die berg (Markus 9:2-9). Die kleur vir hierdie sondag is wit en die sentrale simbool is lig.
Die verhaal van Jesus se verheerliking op die berg is op meer as een manier ’n brug. Ons kyk tegelyk terug na alles wat gebeur het van Kersfees af én vorentoe na Golgota en die leë graf. Die toneel speel af op ’n berg en funksioneer as brug tussen hemel en aarde. Hier ontmoet die menslike die goddelike en die tydelike die ewige. ’n Drama met as sentrale figuur, die verheerlikte Jesus – die Brug tussen God en mens. “Verheerliking” laat nie heeltemal reg geskied aan metamorpheonie. “Transfigurasie”, die titel van hierdie gedig van Sheila Cussons is dalk ’n beter vertaling.
6 Augustus: Transfigurasie
Sheila Cussons
Midsomer nou en alles gloed. Lig oorstelp.
Vlees is swaar, gees onwillig, stom, of soek.
Niks, nie ’n vonk in staat tot hulle “Here,
dis goed dat ons hier is, laat ons hutte bou!”
Ek maak my oë toe, en sien al sien ek nie
die fyn strepie sweet in die plooi van elke
ooglid. Lomerig dink ek: geen hutte nie . . .
En skerper meteens: en natuurlik nie!
Wie bou as ons bou is God, sy dit hut of
Woord – Klein nattigheid van my vel, jy weet nie hoe
besonder jy is nie: hier, en nou,
in die Onverwoordelike: God verlore in God.
Sondag van Verheerliking lok ons tot binne ’n wêreld van wonders waar ons kan ervaar hoe die goddelike lig in en deur alles skyn. Thomas Merton skryf as volg hieroor: “Die lewe is eenvoudig. Ons leef in ’n wêreld wat absoluut deurskynend is en God skyn die hele tyd deur. Dit is nie bloot ’n fabel of mooi storie nie. Dit is waar. As ons van onsself vergeet en aan God oorgee, sal ons dit soms of selfs gereeld raaksien. God wys Homself orals, in alles – in mense en in goed rondom ons; ook in die natuur en in dinge wat gebeur. Gou word dit duidelik dat God orals en in alles is en dat ons nie sonder God kan klaarkom nie. Dis onmoontlik. Die enigste ding is dat ons dit nie raaksien nie.”
(Aangepas uit Preekstudies met liturgiese voorstelle 2011-2012) |
Aswoensdag
Aswoensdag is altyd die eerste Woensdag na die Sondag-van-verheerliking en lei die 40 dae van lydingstyd in.
Aswoensdag is die eerste dag van lydingstyd en is altyd 46 dae voor Paasfees. Volgens die sinoptiese evangelies (Matteus, Markus en Lukas) het Jesus 40 dae lank in die woestyn gebly en gevas voordat hy sy openbare bediening begin het. Dit is dan ook in die tyd wat die Satan vir Jesus versoek het. Aswoensdag staan in die begin van hierdie 40 dae tydperk.
Alhoewel Aswoensdag 46 dae voor Paasfees is, is dit net 'n 40dae vas tydperk. Die rede hiervoor is dat Sondae, wat 'n viering is van Christus se opstanding, nie vasdae kan wees nie. Ons lewe tog as navolgers van die opgestane Christus en alhoewel ons jaar na jaar die lydingsweg tydens hierdie 40 dae in herinnering roep, doen ons dit as mense wat weet dat Christus op die derde dag opgestaan het.
Aswoensdag se naam spruit uit die gebruik om kruisies van as op die mense se voorkoppe te maak as 'n teken van rou en verootmoediging voor God. Tradisioneel word die vorige jaar se gedroogde palmkruisies verbrand en dié as dan gebruik.
Kom buig saam met die gemeenskap van gelowiges in verootmoediging voor God ter voorbereiding om opnuut die lydingspad saam met Jesus te stap. Hierdie jaar se Aswoensdagdiens word op Wo. 22 Febr. om 19:00 in die kerkgebou gehou. |
Lydingstyd
Die fokus van die hele seisoen is voorbereiding vir die Paasfees. In vroeë kerk was die doop ’n sentrale deel van die erediens op Paassondag. Lydenstyd is gebruik vir die voorbereiding van die kandidate. Die gebruik het later ontwikkel dat gemeentelede die kans gegee is om hulle doopbeloftes op Paassondag in die erediens te hernu. Lydenstyd is dus ’n seisoen van voorbereiding met die klem op die dissipline van gebed, vas, Bybelstudie, selfondersoek, berou en liefdegawes.
Dit is terselfdertyd belangrik dat daar onderskeid gemaak word tussen die weeksdae van Lydenstyd en die Sondae in Lydenstyd. In die weeksdae is die klem soos hierbo aangewys, maar die Sondae bly steeds ’n viering van die opstanding van Christus. Die boetvaardige aard van die weeksdae moet nie die viering van die Sondae oorheers nie. Die liturgie bied dus in Lydenstyd die uitdaging om die lyding van Christus op so ’n wyse voor oë te stel dat dit die gemeente tot verootmoediging lei en tog ook telkens die Sondae in Lydenstyd steeds as viering van Jesus se opstanding laat beleef.
In die lydensgeskiedenis van Jesus speel stilte nogal ’n groot rol. Stilte herinner ons in hierdie tyd daaraan dat Jesus, onmiddellik na sy doop deur Johannes die Doper, vir veertig dae en veertig nagte lank die stilte van die woestyn opsoek. Daar het Hy ter voorbereiding vir sy bediening gevas en gebid en in die stilte van die woestyn geworstel met die skadukant van sy eie mensheid. In die Skrifgedeeltes oor Christus se lyding en opstanding is daar weer stilte – Christus se swye(stilte).
In die Anglikaanse (en Roomse) tradisie sak daar op Aswoensdag, wanneer Christene met hulle veertig dae Lydenstydvas begin, ’n stilte op die kerk toe. Kerkklokke lui nie of word gedemp en die halleluja gedeeltes en die Gloria in excelsis Deo in die eucharistiegebed word selfs uitgelaat.
Op Paassondag, met die vreemde en doodse stilte van die leë graf nog vars in die geheue, word ons uitgedaag om nuut te wees en nuut te lewe.
Die liturgiese kleur van die seisoen is pers, maar daar is dae waarop ’n ander kleur gebruik kan word. Op Palmsondag tydens Groot Lydensweek is dieprooi die gebruiklike kleur en wit op Donderdagaand vir die viering van die instelling van die nagmaal. Op Goeie Vrydag kan swart of grys gebruik word, of selfs geen kleur met net die natuurlike en aardse kleur van die hout of steen wat oorheers. Die kruis, as simbool, staan sentraal deur die hele seisoen.
Feesdae
Aswoensdag 22 Februarie 2012
Palmsondag 1 April 2012
Groot Lydensweek 2-5 April 2012
Goeie Vrydag 6 April 2012
(Aangepas uit Preekstudies met liturgiese voorstelle 2011-2012) |
Nuwe Kleingroepe
Daar het verskeie navrae gekom van mense wat belangstel om by kleingroepe betrokke te raak. Ons het dit goed gedink om 'n bymekaarkomgeleentheid te reël sodat mense mekaar kan leer ken, kan gesels oor die verskillende behoeftes en daar dan moontlik 'n paar nuwe kleingroepe sal ontstaan.
Ons het gekies om die term kleingroepe as sambreelterm te gebruik om alle vorme van kleingroepe, soos selgroepe, omgeegroepe, gebedsgroepe, bybelstudiegroepe en selfs aksiegroepe in te sluit. As jy belangstel om by 'n ou of nuwe kleingroep betrokke te raak, kom kuier saam op Donderdag 1 Maart om 19:00 in die braailokaal. |
Doop en -vriende Kuier
Ons het laasjaar so 'n proeflopie-kuier gehad met al die doopouers van die jaar en almal het dit so baie geniet dat daar dan besluit is om dit weer te doen. Dit is 'n lekker informele kuier, 'n kans om bietjie rate uit te ruil of sommer net nuwe gesigte te leer ken. Daarom nooi ons alle ouers, wat die afgelope vier jaar laat doop het, om te kom saamkuier op Dinsdag 6 Maart. om 19:00 in die braailokaal by die kerk. Ons nooi alle doopvriende uit om ook te kom saamkuier.
Ons het ook laasjaar met die tradisie begin van doopvriende, waar elke baba/kind wat gedoop word 'n ouma en/of oupa in die gemeente kry. Die doel van doopvriende is om 'n skakeling tussen die gemeente en doopouers te wees, iemand wat die herinnering van die kind se doopdatum spesiaal maak en iemand wat so dan en wan bietjie kan bederf of sommer net 'n oor om te luister. |
Nuwe Intrekkers
Dit is altyd 'n uitdaging om stad toe te trek of van een voorstad na 'n ander te verhuis. Selfs om in 'n nuwe gemeente jou voete te vind, is nie altyd maklik en vinnig nie. Daarom nooi ons graag alle nuwe intrekkers, wat die afgelope jaar by ons in die gemeente ingetrek het, om saam met die predikante te kom kuier op Woensdag 7 Maart 19:00 in die braailokaal om sommer nog 'n paar ander mense ook te ontmoet. |
|