Waar vriende ontmoet…

Lewensbrood : Wat is Lydenstyd?

WAT IS LYDENSTYD?

Eredienste

Lydenstyd is ‘n seisoen van 46 dae waarin die kerk met vreugde, erns en pyn die sterwe van Jesus verkondig deur sy lyding in herinnering te roep en in voorbereiding op die Paasfees.

Waar kom Lydenstyd vandaan?

Die Westerse kerk het in die tweede helfte van die vierde eeu in navolging van die Oosterse kerk begin om as voorbereiding vir Paasfees ‘n vastydperk van 40 dae in te stel. Die getal 40 is op die voetspoor van Jesus, Moses en Elia. Die vas het meestal beteken dat slegs een maaltyd per dag sonder vleis geëet is.

Tradisioneel begin die vastydperk op As-Woensdag. Aanvanklik was die plaas van die as op die kop van ‘n ernstige sondaar, ‘n soort tughandeling en boete-oplegging van die kerk. Later het die as ‘n meer seremoniële funksie gekry waarin die as, gewoonlik van die vorige jaar se palmtakke, op die voorkop van die lidmate in die vorm van ‘n kruis gesmeer word.

Wanneer vier ons Lydenstyd?

Omdat Christene nie op Sondae, die opstandingsdag, gevas het nie, begin Lydenstyd op ‘n Woensdag, 46 dae (40 dae en 6 Sondae) voor Paasfees.

Waar hierdie Woensdag nie besondere aandag kry nie, begin sommige kerke hul Lydenstyd op die Sondag voor hierdie Woensdag (dus sewe Lydensweke) en ander weer op die Sondag ná hierdie Woensdag (ses Lydenssondae). Hierdie Leesrooster volg die tradisie waar Lydenstyd begin op die Woensdag ná Verheerlikingsondag.

Simbole, rituele en gebruike in Lydenstyd

  • Die kruis is die sentrale simbool in Lydenstyd. Die kruis herinner ons aan die kruisiging van Jesus, ‘n teken van sy lyding en sterwe, dus is dit nie toepaslik om die kruis te versier nie.
  • ‘n Doringkroon of spykers as ander simbole kan saam met die kruis gebruik word.
  • Lydenstyd is ‘n tyd van hertoewyding. Daarom staan dissipelskap sentraal. Lydenstyd is dus ‘n tyd van toerusting vir dissipelskap.
  • Die gebruik van die vas van voedsel in hierdie tyd staan in die teken van hertoewyding. Hierdie gebruik kan met ‘n bietjie verbeelding in ons huise met vrug gebruik word. As teken van ons bereidheid om op te offer vir die evangelie, kan daar bv. besluit word om in hierdie tyd te vas van ‘n gewoonte, van die lees van tydskrifte, die kyk van TV ens. Daar kan ook besluit word om van sekere voedselsoorte te vas.
  • Lydenstyd is‘’n tyd van bepeinsing en stilte. Afsondering is daarom baie nodig. Hoewel daar in hierdie tyd baie nagedink word oor God se oordeel oor die sonde is dit ook ‘n tyd om ons te verwonder oor die kruisiging as dié liefdesdaad van alle tye.
  • Lydenstyd is ‘ n gereedmaak om vernuwing in ons lewens te ontvang. Die pynlikheid van die erkenning van ons eie sonde is hiervoor noodsaaklik. Verootmoediging, skuldbelydenis en boetedoening is in hierdie tyd prominent, maar dit staan alles in die teken van die nuwe lewe wat ons simbolies ontvang op Paassondag. Die ‘as’ van As-Woensdag is ‘n simbool hiervan.
  • Van die wonderlikste kerkmusiek is Lydensmusiek. Hierdie musiek is ‘n gawe aan ons om in hierdie tyd die lyding van die Here Jesus Christus te beleef.
  • Die rituele en simboliek van Palmsondag en die Heilige Week word uitvoerig behandel in die stukke van hierdie week.

Kleure in Lydenstyd

1. Op As-Woensdag is die kleur grys. Daarna vir die res van Lydenstyd word donker aardse kleure voorgestel. Pers word dikwels in hierdie tyd gebruik maar dit het dalk al té veel van ‘n begrafnis betekenis gekry.

2. Die kleure van die Groot Lydensweek en Paasnaweek is belangrik omdat dit die dramatiese karakter van hierdie tyd kan onderstreep. Vanaf Palmsondag tot die Donderdag voor Goeie Vrydag, word ‘n dieprooi gebruik om die bloed van Christus te simboliseer.

3. Op Goeie Vrydag en die daaropvolgende Saterdag, word geen kleure of enige versierings gebruik nie. Die weerhouding van versierings staan in kontras met die baldadigheid van die versierings en kleure wat gebruik word op Paassondag en die tyd daarna.

Brackenfell Gemeente Facebook

There are no upcoming events.