Ode aan broer Sakkie

ʼn Ode volgens Wiktionary kan ook wees “A poem characterized by sustained noble sentiment and appropriate dignity of style”. Ek het nog nooit voorheen so iets probeer nie, maar my hart vloei van emosie, so ek gaan dit nou probeer.

Broer Sakkie ons maat …… daar sit jy en God nou en praat
Sekerlik het die Groot Verlosser al so traan of twee afgevee
Nie van smart, maar van genot. Trane van blydskap dat julle nou saam is
Trane van genot vir die kwinkslae en puttighede wat altyd saam met jou beweeg

Broer Sakkie ons maat …… ek onthou die Paasnaweek van 2014 saam
Sonder dat jy wou, het jy die groep aan jou voete gehou
Ek kan onthou hoe lekker jy gesit het. So lekker dat jy sommer wou opstaan sodat jy weer kon gaan sit

Broer Sakkie ons maat …… natuurlik sal baie van ons oor jou rou
Ons gaan jou egter vir jou sprankel onthou
Dit gaan ons motiveer om jou lewe te vier
Ons gaan onthou van al die plesier

Broer Sakkie ons maat …… vir jou kon niemand kwaad, want dit sou hulle glad nie baat
Dit is die goue draad …… jy was ʼn groot gees in woord en daad
Wanneer dit nodig was, gepraat en wanneer nodig was, gedaad
So is jou bydrae dan altyd sonder haat

Broer Sakkie ons maat …… Jou geliefde Cheetahs ʼn bron van vele jolyt
Oranje op wit, die kleure van lojaliteit
Hierdie was meer as net beleid
Ja …… hulle was soms ook ʼn bron van verwyt, maar net vir ʼn baie kort tyd

Broer Sakkie ons maat …… Jy vertrek en laat ʼn kleingroep agter. Die gedagte dat ons moet funksioneer sonder jou voel skrikwekkend, tog word ons getroos in die wete dat jy nou die aardse pyn afgeskud het
Meer as enige iets anders, is ons dankbaar dat jy in ons midde was en dat jy nou rus

Broer Sakkie ons maat …… Jy laat agter jou bruid. Sy worstel nou deur ʼn diep stryd
Die man wat jy is
Die voorbeeld kom van jou gewis
Kinders vir haar gegee wat koester en bystaan soos jy dit sou vermaan

Broer Sakkie ons maat …… asseblief, groete aan die Verlosser en Vader

Deur Ettiene Verster