Ons is nog steeds in die tiende maand waar ons opnuut nadink oor ons dankbaarheids-offer aan die Here.
Tiende-maand is ‘n geleentheid om bo en behalwe ‘n maandelikse bydrae ook ‘n ekstra bydrae te lewer vir die werk van die Here as offer en blyke van dankbaarheid.
Hierdie jaar help ons mekaar met nadenke oor Tiende-maand deur ‘n beloftekaartjie beskikbaar te stel wat ons kan invul. Dit gee aan ons geleentheid om na te dink en indien nie tydens Oktober nie, tog wel op ‘n meer geleë tyd, ‘n tiendemaand bydrae te maak.
Op die 1ste Sondag in November sal daar ‘n geleentheid wees om beloftekaartjies en bydraes wat nog nie gedurende die maand ingehandig is nie, tydens ‘n ritueel in die skatkis te gooi. Dankofferkoevertjies is by die deure beskikbaar vir 10e maandbydraes, (maar enige koevert sal ook doen).
Gee ons nog ‘n tiende, van dit waarmee die Here ons seën, terug vir Hom?
As ons daaraan dink dat die kerk geen subsidie van enige aard ontvang nie en dat AL die bedieninge, uitreike, onderhoud aan geboue en perseel, water, elektrisiteit, ander rekeninge ens. gefinansier moet word hoofsaaklik uit die dankoffers van lidmate, besef ons hoe afhanklik die kerk is van hoe ons as lidmate dink oor- en handel met ons maandelikse dankoffers.
Daar is ‘n hele paar gedeeltes in die Bybel wat ons help om oor hierdie rentmeesterskap na te dink.
Spreuke 3:9-10: Vereer die HERE met offerandes uit al wat jy uit jou goed en uit die eerstelinge van al jou inkomste; dan sal jou skure vol word van oorvloed en jou parskuipe oorloop van mos.